Luister hier na die Pretoria FM insetsel (Begin luister by 9:56):
Dit is nie net die Minister van Finansies wat ‘n begroting moet saamstel nie. Enige persoon wat enigsins uitgawes het, moet ‘n begroting opstel. Maar dit hoef gelukkig nie die hele land se uitgawes en inkomstes te bevat nie en dit hoef ook nie met ‘n groot geskal bekendgestel te word nie!
“Ons het gevind dit kan baie help as jy net jou gevoel oor ‘n begroting so bietjie aanpas,” sê Martheli Kruger van DebtHealth. “As jy eerder dink die doel is om te kan sien hoe lank jy moet spaar voordat jy jouself lekker kan bederf, as om te dink die doel is om te sien hoe jy al jou hardverdiende geld moet bestee, sit dit jou reeds in ‘n meer positiewe luim.
“’n Begroting kan dus gesien word as ‘n aansporing om binne jou perke te bly sodat jy uiteindelik jou geld kan geniet!”
As jy nie ‘n begroting het nie weet jy eerstens nie hoeveel jy móét bestee en tweedens hoeveel jy kán bestee nie. Met ‘n begroting kan jy sien of jy die basiese uitgawes onder beheer het en wat daar vir jou oorbly om aan luukshede te bestee.
‘n Goeie begroting onderskei tussen verpligte, diskresionêre en luukse uitgawes. Hoewel dit vir baie mense voor die hand liggend is wat onder elkeen van hierdie afdelings pas, is dit soms vir ander mense moeilik om te aanvaar sekere luukses soos sigarette en naels doen is nie noodsaaklikhede nie!
Verpligte uitgawes is verblyf – jou huur of verband, munisipale heffings, kruideniersware, vervoer, skoolgelde en selfone. Diskresionêre uitgawes is klere en die internet omdat jy dit volgens behoefte gebruik. Uitgawes vir luukses is DSTV of ander stroomdienste, vakansies, braai, drank, sigarette, wegneemetes en kosmetiese behandelings.
Jou verpligte uitgawes is dus die goed waaroor jy nie kan onderhandel nie en wat noodsaaklik is om te betaal. Dit is die basislyn van jou uitgawes.
Dit is egter belangrik om nie die dam heeltemal onder die eend uit te ruk as jy sien jou begroting maak wel voorsiening vir sekere luukses nie.
“Jy moet altyd seker maak dat jy maandeliks ‘n bietjie geld wegsit vir die onvoorsiene, veral mediese noodgevalle en skoolverwante uitgawes,” sê Martheli. “Omdat die lewe dikwels sonder waarskuwing verander – jou eggenoot sterf, jy gaan deur ‘n egskeiding, verloor jou werk of siekte tref jou gesin – moet jou noodfonds beskikbaar wees om jou deur moeilike tye te dra.”
Om jou begroting fisies op te stel, hoef nie ‘n groot kopseer te wees nie. Jy het nie noodwendig ‘n deftige program nodig om dit op te stel nie. As jy nie toegang het tot Excel of Google Sheets nie, kan jy ook goed regkom met ‘n stuk papier, liniaal en pen. Daar is dus geen verskoning om nie ‘n begroting op te stel nie.
Dit is goed om die volgende eenvoudige som in gedagte te hou wanneer jy jou begroting opstel:
Inkomste – salarisaftrekkings – uitgawes = oorskot/tekort
Debt Health gebruik hierdie templaat om kliënte met ‘n begroting te help.
INKOMSTE |
Bruto salaris: |
Oortyd: |
Alternatiewe inkomste: |
MINUS
Belasting (SITE en PAYE): |
Werkloosheidsversekering: |
Pensioenfonds: |
Mediese fonds: |
NETTO SALARIS
Huur/Verband: |
Water/Elektrisiteit/ Eiendomsbelasting: |
Kruideniersware: |
Brandstof: |
Skoolfonds |
Selfoon: |
Ander: |
OORSKOT/TEKORT
Gestel jou begroting wys dat jou inkomste nie jou basiese uitgawes dek nie. Hoe dan gemaak?
- Oorweeg ‘n nuwe betrekking
- Doen aansoek vir vrystelling van skoolfonds
- Begin ‘n saamry-klub
- Ruil jou voertuig in vir ‘n goedkoper kar wat ligter op brandstof is
- Probeer goedkoper versekering bekom
- Skuif jou selfoon van ‘n kontrak na ‘n voorafbetaalde pakket
- Belê in ‘n goedkoop internetpakket eerder as om data aan te koop
- Verhuur kamers uit
- Les bes – heroorweeg jou koskeuses. Soms is dit nodig om die brood te rasper!
*DebtHealth is ‘n uitvloeisel van 20 jaar se ervaring in skuldherstrukturering van die regsfirma Kruger Wilkens Prokureurs. Die span bestaan uit toegewyde professionele persone met uitgebreide ervaring in die bestuur en administrasie van die verbruiker se finansies.
Foto: cottonbro studio